Kardinaal de Richelieu

Drieledige portret van Kardinaal de Richelieu waarskynlik in 1642 deur Philippe de Champaigne geskilder

Armand Jean du Plessis, Cardinal-Duc de Richelieu et de Fronsac (Parys, 9 September 1585 – aldaar, 4 Desember 1642) was 'n Franse geestelike, edelman en staatsman.

Hy is in 1608 as 'n biskop aangestel en het later by die politiek betrokke geraak, waar hy in 1616 staatsekretaris in Frankryk geword het. Richelieu het vinnig in aansien gestyg, sowel in die Katolieke Kerk as in die Franse regering, want hy word kardinaal in 1622 en die Eerste Minister van koning Lodewyk XIII. Hy is opgevolg deur Jules Kardinaal Mazarin, wie se loopbaan hy aangemoedig het.

Kardinaal de Richelieu het bekend geword as die koning se eerste minister. As gevolg hiervan word hy beskou as die wêreld se eerste premier in die moderne sin van die woord. Hy wou die koninklike mag versterk en plaaslike faksies vernietig. Deur die mag van die adel te bekamp, het hy Frankryk in 'n sterk, gesentraliseerde staat omskep. Hy was een van die eerste staatsmanne wat openlik nasionale belang bo godsdienstige belang begin stel het. Sy belangrikste buitelandse politieke doelwitte was om die mag van die Oostenrykse Huis van Habsburg te bekamp en om die Franse veiligheidsbelange in die Dertigjarige Oorlog te verdedig. Alhoewel hy 'n kardinaal was, het hy nie gehuiwer om alliansies met Protestantse heersers aan te gaan nie, ten einde sy doelwitte te bereik. Sy ampstermyn was gekenmerk deur die Dertigjarige Oorlog wat Europa verwoes het.

Richelieu het ook bekend geword vir sy beskerming van die kunste; veral omdat hy die Académie française gestig het, 'n wetenskaplike genootskap op die gebied van die Franse taal. Richelieu is bekend onder die bynaam l'Éminence rouge (die Rooi Agbare), as gevolg van die rooi kleur van die kardinaalkleed en die aanspreekform 'edelagbare' vir 'n kardinaal.

As voorstander van Samuel de Champlain en die behoud van die Noord-Amerikaanse stad Quebec het hy die Compagnie des Cent-Associés gestig. Hy het die terugkeer van Quebec na Frankryk onder Champlain gesien deur die Verdrag van Saint-Germain-en-Laye, nadat die nedersetting in 1629 deur die Kirkes verower is. Dit het uiteindelik die kolonie laat ontwikkel in die hart van die Franstalige kultuur in Noord-Amerika.

Hy is een van die hoofkarakters in die boek Les Trois Mousquetaires (Die drie musketiers) (1844) deur Alexandre Dumas père en in die daaropvolgende verfilming. Hy word uitgebeeld as 'n belangrike antagonis en 'n magtige heerser, selfs sterker as die koning, maar gebeurtenisse soos die Journee des dupes wys dat sy mag in werklikheid hoogs afhanklik was van die vertroue wat die koning in hom gestel het.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy